BRITSE SETLAARS

BRITSE SETLAARS. Hoewel die 1820-Setlaars nie die eerste was om die Chris­tendom* na die Oosgrens te bring nie, het dit die grootskaalse permanente vestiging van sowat 4 000 mans, vrouens en kinders meegebring, aanvanklik as landbouers, wat in 60 groepe (“parties”) van tien of meer gesinne verdeel is. Hulle oorspronklike hoofdoel was om as militêre buffergroepe tussen die Xhosa-sprekendes (Kyk by: Xhosas en die Christelike geloof) te dien. ’n Belangrike ander bydrae was om die Engel­se invloedsfeer te verbreed, die Christen­dom in die Oos-Kaap te vestig en hulle Christelike waardes uit te dra.

Die Metodiste* of Wesleyane* was die invloedrykste en getalrykste kerkgroep aan die Oosgrens ná 1820. Dit was veral te danke aan eerw William Shaw* van Salem wat later die Wesleyaanse algemene superintendent in Suidoos-Afrika geword het. Van die ander prominente Metodiste-sen­de­linge* was John Ayliff, later hoof van die Healdtown-opleidingsinrigting, en Henry Dugmore (1810–1897) – veelsydige Xhosa-linguis en digter. Dié sendingaktiwiteite het onder meer tot die doop* gelei van Samuel Kama* – die eerste bekeerde Xhosa-kaptein. Ander denominasies soos die Baptiste* het onder leiding van William Miller van Salem wat in 1832 na Grahamstad verplaas is, baanbrekerswerk verrig. Hy word as die stigter van die Baptistekerk in Suid-Afrika beskou. Die Anglikaanse Kerk* as Engelse staatskerk het eers vanaf 1847 ’n belangrike bydrae gelewer met die aankoms van Nathaniel Merriman (later biskop van Grahamstad) en die aanstelling van biskop Armstrong in 1853. Die Anglikane het ook vanweë die daadwerklike steun van die Britse goewerneur, Sir George Grey*, met die oprigting van kerkskole begin. Die Ka­to­lieke* betrokkenheid onder die Setlaars dateer uit 1847 met die inseëning en vesti­ging van biskop Devereux in Grahamstad. Die Presbiteriane* het leiersfigure opgele­wer soos Thomas Pringle – skrywer, digter en kampvegter vir persvryheid. Hy het ook ’n Khoekhoen*-gemeente tot stand gebring.

Die koms van die Britse setlaars het gelei tot die betrokkenheid van die Skotse en Londense sendinggenootskappe* in Suid-Afrika. Daar is gevolglik stewige geestelike fondamente gelê wat veral vir die kerk en onderwys in die Oos-Kaap tot groot voordeel en seën was.

Vir verdere lees: DGL Craig 1970: “Godfearing Men and Women they Were” in: Lantern, September 1970.

Sidebar