BRITTZ, LOUIS

BRITTZ, LOUIS (1968–) is ’n nie-prakti­se­ren­de prokureur en een van die bekendste sangers en liedjieskrywers van Christelike musiek in Suid-Afrika. Sy musiek word as “akoestiese rock met Afrika-, Europese en Amerikaanse invloede” beskryf. Brittz is op Brakpan gebore en het aan die Hoërskool Stoffberg gematrikuleer. Hierna het hy die grade BLC LLB aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Tydens sy studentejare het hy kore en serenadegroepe afgerig en mu­siek­bly­spele geskryf. In 1993 is sy eerste kompakskyf (CD) vrygestel en in 1994 het hy die regsberoep verlaat om met ’n voltydse sangbediening te begin. In April 1994 het die Verenigende Christen-studen­te­vereniging* hulle eerste nasionale jeug­fees gehou met Brittz as sangleier. Hy het reeds saam met kunstenaars soos Loren Cunningham, Tony Campolo, Duffy Rob­bins en Steven Curtis Chapman opgetree. Hy is die omdigter en toonsetter van Afrikaanse Psalms en het ’n platemaatskappy, Merchant Music, gestig. Louis se bediening het ook na die buiteland uitgebrei met toere na Namibië, Bosnië, Brittanje, België, die VSA, Kanada en Turkye. Hy is die wenner van verskeie ATKV-toekennings.

Sidebar