BROER ANDREW (ANDY VAN DER BIJL)

BROER ANDREW (ANDY VAN DER BIJL) (1928–) is in Witte, Nederland, gebore. Hy ontvang sy opleiding by World Evangelization Crusade (WEC; tans World­wide Evangelization for Christ) in Brittanje en word daarna ’n sendeling* en stig die organisasie Geopende Deure Internasionaal met die oog op ’n wêreldwye bediening aan die vervolgde kerk van Christus*. Hy werk agter die destydse “Ystergordyn” in Rusland, Pole, Joegoslawië, Oos-Duitsland, Tsjeggo-Slowakye, Hongarye, Bulgarye, Roemenië, Masedonië, Albanië, China en Kuba om Bybels* aan Christene beskikbaar te stel.

Sy eerste boek, God’s Smuggler, word ’n internasionale beste verkoper met 10 miljoen kopieë in Engels alleen.

Die sukses van God se Smokkelaar het dit vir Broer Andrew se kontakte in die ondergrondse kerk te gevaarlik gemaak om voort te gaan met sy sending. Gevolglik besluit hy om nie na Oos-Europa terug te keer nie, maar om sy aandag aan die Midde-Ooste te wy. In die afgelope meer as drie dekades het hy die kerk van Christus daar bedien en sy getuienis uitgelewe teenoor Jode* en Moesliems (Kyk by: Islam).

Sy boodskap is dat ’n radikale benadering in Christus nodig is vir die skaakmat-situasie in die Midde-Ooste. “Slegs die evangelie van liefde het die ant­woord.”

Vir verdere lees: Broer Andrew en John en Elizabeth Sherril 1970. God se Smokkelaar. Kemptonpark: Hart-Uitgewers. Brother Andrew en Al Jansen 2004. Light Force: A Stirring Account of the Church Caught in the Middle East Crossfire. Grand Rapids: Revell.

Sidebar