BROOD VAN DIE LEWE

BROOD VAN DIE LEWE. Jesus* noem Homself ’n paar keer só in die Johannes*-Evangelie (6:35, 48, 51, 58). Uit die konteks van Joh 6 lyk dit asof die term verwys na die innige verhouding met Hom wat nodig is om waarlik die Lewe te hê – só innig dat gemeenskap met Hom, simbolies gesproke, moet wees soos brood wat ’n mens eet. So noodsaaklik soos brood of kos is om die fisieke lewe in stand te hou, so lewensnoodsaaklik is ’n innige verhouding met Christus* vir die geestelike lewe. Hierdie geestelike lewe behels dat ’n mens so ’n naby-kennis van Christus in stand hou deur die voortdurende en herhalende lees van die Bybel*, dat jy al hoe beter weet hoe Christus gelewe het, liefgehad het, gedien het, watter deernis Hy vir mense gehad het, hoe Hy Homself verne­der het, hoe Hy eiebelang op die agtergrond kon skuif vir ander, hoe Hy vir God gelewe het en nie vir Homself nie, ens. Hoe ryker en voller hierdie kennis en hoe inniger sy geestelike teenwoordigheid, wat as ’t ware elke dag soos kos ingeneem moet word, hoe duideliker word dié Lewe ervaar en hoe meer is ’n mens in staat om self ook soos Hy te lewe.

Sidebar