BROWNE, ROBERT

BROWNE, ROBERT (circa 1553–1633) wat aan Cambridge studeer, was die eerste Independente Calvinis (Kyk by: Calvinisme) of Kongregasiona­listiese puritein* in Engeland. In Norwich ontmoet hy ’n groep Nederlandse Baptiste*. Waarskynlik is hy deur hulle beïnvloed, want van 1579 af leer hy dat die plaaslike gemeente* volledig kerk* van Christus* is, en daarom hulle eie leraar kan aanstel. Hy preek sonder toestemming van die biskop* en begin, in samewerking met Robert Harrison, om vrye gemeentes te stig. Die owerheid veroordeel sy verwerping van die episkopaalse staatskerk (Kyk by: Episkopa­lisme), maar in 1582, ná ’n tyd in die gevangenis, word hy en sy volgelinge toegelaat om na Middelburg in Nederland te emigreer. In 1583 raak hy in ’n geskil met Harrison betrokke en word deur die ge­meente onder sensuur geplaas. Hy keer te­rug na Engeland en in 1585 onderwerp hy hom aan die aartsbiskop van Kantelberg, die Calvinis John Whitgift. In 1591 word hy bevestig as leraar in Northamptonshire, waar hy tot sy dood bly. Ten spyte van sy terugkeer na die staatskerk, lewer die Vrye of Independente Calvinisme later hoog­staande leiers op, soos John Owen, Thomas Goodwin, John Milton*, Oliver Cromwell* en John Bunyan*. Honderde ander het na Amerika geëmigreer.

Sidebar