BRUCE, FREDERICK FYVIE

BRUCE, FREDERICK FYVIE (1910–1991), ’n Skotse Nuwe-Testamentikus, behaal MA-grade en studeer in Grieks*, Latyn en Hebreeus* (maar nooit formeel teologie* of Bybelwetenskappe* nie), in Aberdeen, Cam­­bridge, Manchester en Wene, maar voltooi nooit ’n doktorsgraad nie. Tog skryf hy meer as 50 boeke. Hy was alle antieke en moderne Europese tale wat vir die Bybel* van belang is, magtig. Die indruk bestaan dat hy die hele Bybel, ook in die antieke tale, uit die kop geken het. Hy was president van die internasionale Ou-Testamen­tiese* (1965) en Nuwe-Testamentiese* genootskappe (1975), en ontvang verskeie eredoktorsgrade.

Bruce doseer Grieks in Edinburg, Leeds, en begin in Sheffield (1947–1959) die departement Bybelse geskiedenis en lite­ratuur. Hy beklee die John Rylands-leerstoel in Bybelwetenskap te Manchester (1959–1978), en begelei meer doktorsdissertasies as enigiemand anders. Hy is ’n gerefor­meer­de* Bybelse teoloog, evangelies van aard. Vir sommige is hy ’n fundamentalis (Kyk by: Fundamentalisme), maar ten onregte. Hy het wel ’n passie om gewone Bybellesers met kennis te dien. Hy verwerp alle vorms van diskriminasie*, en is ’n groot kampvegter vir vroue* in die be­diening. Vir 50 jaar het Bruce ’n geweldige invloed op geleerdes én gewone Bybellesers uitgeoefen.

Sy eerste groot publikasie is ’n kommentaar op Handelinge* se Griekse teks (1951), gevolg deur ’n teologiese weergawe daarvan (1954). Daarna skryf hy kommentare op elke Paulusbrief en byna elke Nuwe-Testamentiese boek. Sy belangrikste werk oor Paulus* is Paul, apostle of the free spirit (1977). ’n Klassieke teksboek is The New Testament History (1969). Hy was redakteur van die Palestine Exploration Quarterly (1957–1971) en van die Evangelical Quar­terly (1949-1980).

Vir verdere lees: DK McKim (red) 1998. Historical Handbook of Major Biblical Interpreters. Leicester: IVP.

Sidebar