BRUEGGEMANN, WALTER

BRUEGGEMANN, WALTER (1933–) is seker die Amerikaanse Ou-Testamentikus wat die bekendste in Suid-Afrika is. Hy het onder andere aan Elnhurst College en Eden Theological Seminary gestudeer, en het doktorsgrade van Union Theological Seminary, New York (in Ou Testament*) en van St Louis-universiteit (in Opvoedkunde) behaal. Sy eerste akademiese pos was by Eden Theological Seminary, Webster Groves, Missouri (1961–1986). Van 1986 tot met sy aftrede in 2003 was hy die William Marcellus McPheeters-professor in Ou Testament aan die Columbia Theological Seminary, Decatur, Georgia. In 1990 is hy verkies tot president van die Society of Biblical Literature. Hy is getroud met Mary Miller, ook ’n geordende leraar van die United Church of Christ. Brueggemann het talryke akademiese boeke en artikels, preke, en publikasies vir ’n meer populêre mark die lig laat sien. Een van sy belangrikste werke is Theology of the Old Testa­ment. Testimony, Dispute, Advocacy (1997). In hierdie werk probeer hy ’n teologie van die Ou Testament rekonstrueer vanuit Israel* se spreke oor God soos verwoord in die Hebreeuse Bybel. Hy kies ’n hofsaak-metafoor om hierdie konstruksie te doen. Israel se kenmerkende getuienisse (core testimony) oor God word bespreek. Daarna word gekyk na die teen-getuienisse (counter-testimony) op hierdie getuienisse wat ook in die Ou Testament voorkom, sowel as die ongevraagde getuienisse (unsolicited testimony). Ten slotte kyk hy hoe hierdie verskillende spreke oor God meegedeel word (embodied testimony). Met hierdie aanpak probeer hy sensitief wees vir die feit dat daar ’n verskeidenheid stemme in die Ou Testament oor God praat, en dat hierdie verskeidenheid met verskillende metodes in verskillende kontekste geïnterpreteer kan word.

Sidebar