BRUID

BRUID. Die Hebreeuse* woord kallah be­te­ken skoondogter, bruid. Dit kan ’n verloofde, hubare jong meisie, of jong eggenote wees. Die enigste verskil met ’n huwelik* is dat die meisie nog by haar pa bly en dat hy nog seggenskap oor haar het. ’n Verloofde kan dus ’n weduwee word of selfs ’n skeibrief ontvang. Hierdie verstaan van “bruid” is in die Nuwe Testament* oorgeneem.

In die Ou Testament* word die verhou­ding van die Here* tot sy volk beskryf as ’n verlowing/huwelik (Jes 54:5; 62:5; Jer 2:2). Die meeste Jode* het geglo dat die huwelik tussen God en sy bruid eers in die tyd van die Messias* sou plaasvind. Ontrou aan die Here word gesien as owerspel*, egbreuk*, verbondsbreuk (Kyk by: Verbond), hoerery* (Eseg 16; Hos 2). Hooglied* word soms gesien as ’n allegorie* oor die liefde tussen God en Israel*.

In die Nuwe Testament geld dieselfde van Christus* en sy gemeente*, waar die gelowiges die jongmeisie, bruid (2 Kor 11:2), of vrou (Ef 5:25-32) genoem word. In Openbaring* (19:7-9; 21:2 en 9; 22:17) is die bruid die nuwe Jerusalem*, wat as versierde stad uit die hemel afkom. Die bruilof in Matt 22:2-14 simboliseer die koninkryk* van die hemel, waarheen baie uitgenooi is, maar waaraan min deel het.

 

Sidebar