BRUIDEGOM

BRUIDEGOM. Die Ou Testament* be­skryf die Here se verhouding met sy volk as ’n verlowing (Jes 62:5). Paulus* is die eerste wat Christus* as bruidegom van die Chris­telike gemeenskap voorstel. Paulus funksio­neer self as strooijonker wat oor die bruid* se maagdelikheid waak en haar na die bruidegom begelei (2 Kor 11:2-4). In Ef 5:22-32 word Christus se liefde* vir sy kerk* as voorbeeld gestel vir die gedrag van die Christelike man teenoor sy vrou*. Die eenheid tussen Christus en sy kerk dui volgens sommige op die wederkoms* (Ef 5:31-32). Matt 25:1-13 is nie ’n allegorie* oor die uit­stel van Christus se wederkoms nie, maar die gelykenisse* in Matt 24–25 beklemtoon dat ons gereed moet wees vir sy onverwagse koms (Matt 24:41).

“Kan die bruilofsgaste dan treur solank die bruidegom nog by hulle is?” in Matt 9:15a is volgens sommige ’n omstrede teks, omdat Jesus* nie voor sy dood en opstan­ding* openlik verklaar het dat Hy die Mes­sias* is nie. Daarom lees sommige teoloë hier “bruilof” in plaas van “bruidegom”. “Brui­lof” beteken dan “die komende verlossingstydperk” waaraan die dissipels* (bruilofsgaste) reeds deel het.

In Joh 3:29-30 roep die bruidegom uit die bruidskamer na sy vriend om hom die bewys van maagdelikheid te gee, wat die vrou teen laster beskerm.

 

Sidebar