BRÜMMER, VINCENT

BRÜMMER, VINCENT (1932–) het teologie* en filosofie op Stellenbosch stu­deer, en sy studies voortgesit in Harvard (by Paul Tillich*), Utrecht (by AE Loen) en Oxford (by IT Ramsey). Hy was ná sy proefskrif oor Dooyeweerd* ’n rukkie werksaam by die Universiteit van Natal (1962) en Unisa (1964) voordat hy hoogleraar in godsdienswysbegeerte in Utrecht geword het (1967–1997). Hy het eredoktorsgrade van die universiteite van Uppsala (1994) en Durham (1997) ontvang. Brümmer het aanvanklik veral gewerk aan die ontwikkeling van ’n wysgerige metode wat in die siste­matiese teologie* toegepas kon word. Sy invals­hoek is geïnspireer deur die Angelsaksiese analitiese wysbegeerte, maar is later ook deur die Europese hermeneutiek* beïnvloed. Vervolgens het Brümmer hierdie metode toegepas op ’n aantal vraagstukke in die wysgerige Godsleer. Inhoudelik is hy sterk beïnvloed deur J Lucas, van wie hy geleer het dat ons oor God se eienskappe nie moet dink vanuit ’n Aristoteliaanse substansie-attribute logika nie, maar vanuit ’n relasionele logika. Vanuit hierdie benade­ring het hy verskeie boeke geskryf – oor die gebed, die liefde* van God en mens, die Drie-eenheid*, versoening* en die Christo­logie*. In hierdie studies het hy ’n relasionele wending in die Godsleer voltrek met impak op die Nederlandse dogmatiek* en wat internasionale aandag getrek het. Sy posisie is vergelykbaar met dié van die (meer onlangse) “open theism” in Noord-Amerika. Deurdat vir Brümmer die mono­game liefdesverhouding die “sleutelmodel” vir die konseptualisering van die verhou­ding van God en mens is, beklemtoon hy die indiwiduele gelowige (en nie die gelowige gemeenskap nie) en die eenheid van God (ook in sy Drie-eenheidsleer). Dit spreek ook die Moesliems aan, en Brümmer se open­heid vir ’n Islamities-Christelike dia­loog het hom verskeie kere in Iran gebring.

Brümmer het in 2009 die Andrew Murray-Desmond Tutuprys (Kyk by: Andrew Murrayprys) ontvang vir sy boek What are we doing when we pray? In 2013 verskyn ’n verrassende “kerkhistoriese” werk van hom, Vroom of regsinnig? Teologie in die NG Kerk, waarin hy die godsdienstige debatte analiseer wat in die NG Kerk, en by name in die Kweekskool op Stellenbosch, gewoed het tussen die tweede helfte van die 19de eeu en die vroeë 1930’s. Vir dié werk het hy die Andrew Murrayprys in 2015 ontvang.

Vir verdere lees: V Brümmer 2006. Brümmer on Meaning and the Christian Faith: Collected Writings of Vincent Brüm­mer. Aldershot: Ashgate.

Sidebar