BRUNNER, HEINRICH EMIL (EMIL)

BRUNNER, HEINRICH EMIL (EMIL) (1889–1966) was ’n Switserse teoloog. Hy het in Zürich en Berlyn gestudeer. Hy was predikant te Obstalden (1916–1924), hoogleraar in die sistematiese en praktiese teologie te Zürich (1924–1953) en in die Christelike filosofie en etiek* aan die Internasionale Christelike Universiteit, Tokio (1953–1955). Brunner was ’n “dialektiese” teoloog. In sy groot monografie, Der Mittler (1927), staan die persoon van die Middelaar* op die voorgrond. Brunner maak ’n skerp onderskeid tussen die Christus* van die geloof en Jesus* van Nasaret. Die lewe van Jesus is vir hom nie meer as ’n betekenisvolle gebeurtenis in die geskiedenis nie. Hy verwerp die maagdelike geboorte as ’n “biologiese teorie”. In gesprek met die liberale Christologie en moderne wetenskap kom Brunner tot die omstrede uitspraak dat die Christelike geloof* verenigbaar is met ’n uiters radikale Bybelkritiek solank die historisiteit van Jesus nie ontken word nie. Aanvanklik het Brunner behoort aan die werkgemeenskap Zwischen den Zeiten (1922–1933) rondom Barth* saam met Fr Gogarten, Ed Thurneysen* en G Merz, waar hy ’n bemiddelende rol gespeel het tussen Barth en Gogarten. Brunner het gemeen dat Barth die skepping ondergeskik aan die verlos­sing stel, terwyl Gogarten dit net andersom gesien het. Uiteindelik het Barth hom van Brunner gedistansieer.

Vir verdere lees: A Szekeres 1959. “Brunner, Emil” in: FW Grosheide en GP Itterzon (red), Christelijke Encyclopedie. Kampen: Kok.

Sidebar