BUCER, MARTIN

BUCER, MARTIN (1491–1551) word beskou as die Hervormer van Straatsburg. Hy het as 15-jarige as monnik* by die Dominikaanse Orde (Kyk by: Dominika­nersH) aangesluit. Hy skryf in 1517 by die Universiteit van Wittenberg in en ontmoet die volgende jaar vir Martin LutherH. ’n Paar jaar later tree hy uit die Orde en onderskryf die ProtestantseH teologie. In 1522 trou hy met ’n voormalige non. Hulle het 13 kinders gehad wat almal vroeg oorlede is. Die jaar ná sy troue is hy deur die pousH verban. Hy het in Straatsburg asiel verkry. In 1523 is hy daar as predikant georden. Hy het veral probeer om die onderlinge verskille tussen die verskillende Protestantse groeperings (Lutherane, Calviniste en Dopers) te versoen. Bucer het die stryd tussen Luther en ZwingliH beskou as ’n kontroversie “meer oor woorde as oor betekenis”. Hy het veral aandag aan die nagmaal*stryd gegee.

 

Sidebar