BUCHAN, ANGUS

BUCHAN, ANGUS (1939-) is van Skotse afkoms, moes sy plaas in Zambië spotgoedkoop verkoop, het in die Metodistekerk* in Grey­town, kwaZulu-Natal, tot bekering gekom, as aartappelboer misoeste en geil lande beleef, talle boeke (onder meer Faith Like Potatoes, wat verfilm is) geskryf, en as lekeprediker deur die jare derduisende mense toegespreek. In 2008 het hy voor 60 000 mans op sy plaas getuig dat “die waarheid die Woord van God is” en dat hulle selfbeeld en selfvertroue deur die Heilige Gees* herstel kan word om hulle van hulle woede, bitterheid en vrees te genees. Die  Mighty Men-beweging wat hy daarmee aan die gang gesit het, het ’n ongekende roering in godsdienstige kringe in Suid-Afrika veroorsaak. Buchan het ’n fenomeen geword wat, hoewel hy nie Afrikaans* magtig is nie, veral ook in Afrikaanse kringe ’n wye aanhang verwerf het. Sy “back to basics”-evangelie het by baie mense aanklank gevind, veral by mans wat hy tot ’n nuwe toewyding tot God en hulle gesinne opgeroep het. Sy “sagte patriargie” het mans teruggestuur huis toe om weer hulle “regmatige plek” dáár in te neem. Hoewel Buchan se teologie in baie opsigte as fundamentalisties* beskou kan word, het hy ongetwyfeld belangrike Bybelse waarhede, soos geloof in en toewyding aan God en ’n sobere leefwyse van huwelikstrou en verantwoordelike vaderskap, opnuut onderstreep. In 2016 is hy onder andere vanweë sy houding oor homoseksualiteit* gekeer om in ’n lokaal in Skotland op te tree.

 

 

Sidebar