BÜCHNER, ELSJE PETRONELLA

BÜCHNER, ELSJE PETRONELLA (1967–) voltooi haar teologiese studie in Bloemfontein en word in 1991 gelegitimeer (Kyk by: Legitimasie) met die oog op bediening in die NG Kerk*. Sy werk as proponent* in ’n studentegemeente in Bloemfontein, in Doornkloof, Sesmylspruit en Garsfonteinpark, voordat sy in 2000 deur Garsfonteinpark as tentmakerpredikant beroep en haar pos in 2005 in ’n volledige predikantspos omskep word. (’n Tentmakerpredikant werk deeltyds in ’n gemeente en kan ook ander nie-predikantswerk doen.) Doornkloof skik met haar in ’n arbeids­regtelike saak nadat hulle ’n man bo haar beroep het.

In 1999 is sy organiseerder van ’n konferensie, “Moeder Kerk en haar dogters”, waartydens gelegitimeerde vroue die eerste geleentheid kry om hulle kerklike verhale te vertel. Daarna vra die Algemene Sinode van 2002 vroue om verskoning vir seksisme in die kerk. Büchner het ’n belangrike rol gespeel dat die NG Kerk ’n lessenaar oor geslagskwessies en diversiteit ingestel het. In 2001 word sy verkies tot die Oos-Transvaalse sinode* se sinodale diensraad, en in 2004 word sy die eerste vrou, en waarskynlik die jongste persoon nog, wat verkies word tot die modera­tuur* van die Algemene Sinode. In 2014 word sy predikant van La Rochelle-gemeente in die Wes-Kaap, en in 2015 skriba van die Wes-en-Suid-Kaapse sinode. Sy het haar doktorale proefskrif oor die geskiedenis van vrouepredikante in 2007 aan die Universiteit van Pretoria voltooi.

Sidebar