BULLINGER, JOHANN HEINRICH

BULLINGER, JOHANN HEINRICH (1504–1575). Ná eie studie van die Kato­lieke* kerkleer, die kerkvaders*, die Nuwe Testament* en werke van Luther*, gaan hy na die Hervorming* oor. Van Zwingli* ontvang hy onderrig in teologie* en in 1529 word hy predikant te Bremgarten. Ná Zwingli se dood (1531) word Bullinger sy opvolger in Zurich. Vandaar verbrei sy invloed en deur middel van uitgebreide briefwisseling dien hy die saak van die Kerkhervorming in die algemeen maar veral van die gereformeerde* geloof en leer in besonder. Dit het daartoe gelei dat van hom gepraat is as die apostel van die gereformeerde kerke in Duitsland, Switserland, Frankryk en Engeland. Hy het hom beywer vir die eenheid van die Switserse kerk wat deur die Consensus Tigurinus van 1549 vasgelê is. Hy stel die Confessio Helvetica Posterior op, wat nie net deur die Switserse nie, maar ook deur die Franse, Skotse, Poolse en Hongaarse gereformeerde kerke aanvaar is, terwyl die kerke van Nederland en Engeland ook daarmee instemming be­tuig het. Met die finale breuk tussen Rome en die Anglikane* (1570), stel hy vir ko­ningin Elizabeth I ’n antwoord aan die pous* op. Vanweë die dominansie van die denke van Calvyn*, het Bullinger se bydrae tot die Kerkhervorming ietwat vergete ge­raak.

Sidebar