BULTMANN, RUDOLF KARL

BULTMANN, RUDOLF KARL (1884–1976), studeer in Tübingen, Berlyn en Marburg by onder andere Von Harnack* en Gunkel*. Hy doseer in Marburg (1921–1951) as kollega van onder meer Heidegger*.

Die godsdienshistoriese skool, Barth* se dialektiese teologie en Heidegger* beïnvloed hom, hoewel Bultmann se spesifiek Christelike benadering verskil van Heidegger se filosofiese benadering. Sy opstel oor hermeneutiek* (1950) lei die ontmitologisering*-program in. Hy wil nie Bybelse “mites*” elimineer nie, maar eksistensialisties (Kyk by: Eksistensialisme) interpreteer om dit vir moderne mense verstaanbaar te maak. Vir hermeneutiek is die begrip “voorverstaan” volgens Bultmann belangrik omdat niemand ’n teks* neutraal lees nie. Hy onderskei Historie (rekonstruksie van die verlede) en Geschichte (geskiedenis wat jou lewe verander). ’n Teks se onderdele moet steeds in die lig van die teks as geheel verstaan word – dit impliseer ’n hermeneutiese sirkel.

Sy grootste bydrae lê waarskynlik op die gebied van die Sinoptiese Evangelies*, die Paulus*-geskrifte en die teologie van die Johannes*-Evangelie. Hy is een van die grondleggers van die vormhistoriese benadering. Hy is skepties oor wat ons histories van Jesus* se lewe kan weet en meen dat Jesus nie Homself as Messias* verkondig het nie. Tog verkondig die kerk* Jesus as Verlosser* deur sy dood en opstanding*. Bultmann-leerlinge het wel later die ondersoek van die “historiese Jesus*” voortgesit.

Bultmann se NuweTestamentiese Teologie behandel Jesus se boodskap histories slegs as voorveronderstelling van Nuwe-Testamen­tiese teologie. Daarna val die klem by hom op teologie gebaseer op Paulus en die teologie agter Johannes.

Vir verdere lees: D K McKim (red) 1998. Historical Handbook of Major Biblical Interpreters. Leicester: IVPress.

 

Sidebar