BUONARROTI, MICHELANGELO DI LODOVICO

BUONARROTI, MICHELANGELO DI LODOVICO (1475–1564) is in Florence gebore en werk hoofsaaklik in Florence en Rome. Bykans al sy kunswerke is in opdrag van die heersende pous* gemaak, gebaseer op sy interpretasie van Bybelse temas of fi­gure. Michelangelo was eerstens ’n beeldhouer (Piëta en Dawid), maar ook frescoe-kunstenaar (Die laaste oordeel en sy meesterswerk, die plafon van die Sistynse kapel), argitek (St Petrus-basiliek), en soms ook digter. Van sy min skilderye op doek is Tondo of the Holy Family. Michelangelo was diep godsdienstig en gefokus op die mens, selde op die landskap. Min tonele kan dus geografies geplaas word. As humanis* probeer hy om die menslike liggaam realisties, maar na die beeld van God, uit te beeld. Pouslike opdragte en godsdiens­tigheid ten spyt, was sy verhouding met die Katolieke Kerk* dikwels stormagtig en tot sy dood was hy haaks met pous Julius II se familie weens ’n onvoltooide grafsteen. Die naakte en sinis­tere figure van Die laaste oordeel is deur kerklikes as godslasterlik afgemaak, en ’n maand voor sy dood het die Konsilie van Trente* ’n aanpassing daarvan gelas. Tot sy dood het hy egter volgehou dat hy werk uit liefde vir God op Wie al sy hoop is. Hy is in Santa Croce in Florence begrawe.

Vir verdere lees: Ludwig Goldscheider 1964. Michelanglo: Paintings, Sculptures, Architecture. Complete Edition. Londen: Phaidon.

Sidebar