BURGER, ADRIAAN JOHAN VICTOR (ATTIE)

BURGER, ADRIAAN JOHAN VICTOR (ATTIE) (1900–1981) aanskou die eerste lewenslig in die konsentrasiekamp op Howick, Natal. Toe hy hom as NG Kerk*-predikant* op Stellenbosch laat oplei het, volg hy in sy pa, Alewyn, se voetspore. Hy dien in die gemeentes Paulpietersburg, Pretoria-Noord, Johannesburg-Noord en Johannesburg-Oos. Hy was ’n gebore skriba en was vir 13 jaar skriba van die Raad van NG Kerke, 14 jaar van die Sinode van Transvaal en 8 jaar van die Algemene Sinode – ’n ongeëwenaarde rekord. Ná die Tweede Wêreldoorlog* beywer hy hom vir die maatskaplike opheffing van sy minderbevoorregte volksgenote. Hy lei die Christelike Maatskaplike Raad* in Pretoria en rig die eerste gemeenskapsentrum met ’n voltydse maatskaplike werker op. Hy openbaar van vroeg af ’n liefde vir skryf en word ’n kampvegter vir goeie kerklike publikasies. Die Voorligter* word in 1937 op sy aandrang deur die Transvaalse NG Kerk opgerig. Hy het as tweede redakteur dié gesinsblad met ’n populêre aanslag wat die kerklike lewe in woord en beeld aan sy lesers wou oordra, 14 jaar voltyds en 9 jaar deeltyds gedien. Die Voorligter het meestal buite die “kerklike politiek” gebly, maar het ná die Cottesloe-beraad* (1960) saam met Die Kerkbode* sterk standpunt ingeneem teen die beraad se besluite. Die Voorligter het jare later die gesinsblad LiG* geword.

 

Sidebar