BURGER, ISAK SCHALK VAN DER MERWE

BURGER, ISAK SCHALK VAN DER MERWE (1951–). Isak Burger studeer aan die Universiteit van Pretoria en behaal sy BA in 1971 en sy BD aan die NG Kerk* se Fakulteit Teologie in 1974. Hy skryf ook daar in vir sy doktorsgraad oor die eerste vyftig jaar van die Apostoliese Geloofsen­ding* (AGS) se geskiedenis en voltooi dit in 1987. Hy word in 1976 georden as pastoor van die AGS en bedien die gemeentes Balfour en Witbank-Sentraal voordat hy dosent en registrateur word van die AGS se teologiese kollege. In April 1988 word hy op 37-jarige leeftyd verkies tot president van die AGS wat toe nog op rassegronde verdeel was. Hy speel, soms teen opposisie uit eie geledere in, ’n leidende rol om die vereniging van die verskillende afdelings van die kerk in April 1996 moontlik te maak, waarna hy president van die vere­nig­de AGS word en telkens weer herkies is. In 2013 was hy ’n kwarteeu lank president van die AGS. Burger lei die AGS ook tot ekumeniese* deelna­me en was betrok­ke by die organisasie van die Rustenburgse kerkeberaad* van 1990 en die tweede SACLA*-konferensie in 2003. Hy was medevoorsitter van die twee­de Rustenburg­be­raad in 1999. Internasionaal het hy die AGS in die uitvoerende komitee van die World Pentecostal Fellow­ship verteenwoordig. Hy is skrywer en medeskrywer van verskeie populêre Chris­telike boeke, onder meer Die eerste vyf minute ná die dood en Die laaste vyf minute voor die dood waarvan daar gesamentlik meer as 240 000 eksemplare verkoop is (2012). Dit is ook in Arabies, Roemeens en van die Indiese tale beskikbaar en vertalings daarvan in verskeie ander tale word oorweeg. By baie Christene dwing hy respek af met die sterk manier waarop hy geloof­standpunte stel, onder meer oor die gesag van die Bybel* en teen die uitlewing van homoseksualiteit*, maar hy word uit ander Christelike kringe as gevolg daarvan soms as fundamentalisties* be­stem­pel. Hy weier egter om die etiket van ’n fundamentalis te dra, “want dit het nou ’n skeldwoord geword. Vroeër was dit ’n eretitel”, sê hy. Maar hy verklaar sonder voorbehoud dat hy glo wat die Bybel* sê oor sake soos die wonderwerke* van Jesus*, oor sy maagdelike geboorte* en dergelike kwessies (Die Burger, 25 Oktober 2012).  Hy is ’n  gewilde spreker, ook ver buite die grense van die AGS, en ’n medewerker van die eCKE.

 

Sidebar