BURGERS, THOMAS FRANCOIS

BURGERS, THOMAS FRANCOIS (1834–1881) is in die distrik Graaff-Reinet gebore waar hy ’n Engelse skoolopleiding ontvang het. Hy het van 1853 tot 1858 teologie aan die Universiteit van Utrecht studeer. Burgers het in 1859 die eerste leraar* van Hanover in die Karoo geword, en is in 1862 deur ’n lidmaat van onregsinnigheid by die sinode* aangekla omdat hy na bewering onder meer die bestaan van die duiwel*, die opstanding* van die dooies en die voortbestaan van die siel* ná die dood betwyfel het. Dit het in 1864 Burgers se ontslag meegebring. Alles het in 1866 gelei tot die stigting van ’n gemeente* bekend as die “Afgescheidene Gereformeerde Ge­meen­te van Hanover”.

Burgers het hierna vanweë ’n sameloop van omstandighede in 1872 president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) geword. Daar is onder meer gehoop dat hy met sy akademiese agtergrond meer sukses sou behaal in sy betrekkinge met Brittanje as sy voorganger, pres MW Pretorius. Sy dikwels arbitrêre optrede as verligte president, het hom egter in botsing gebring met die oorwegend konserwatiewe kieserspubliek. Sy hervormings op politieke vlak het dieselfde teenkanting as sy kerklike optredes gekry. Burgers se botsings met die konserwatiewe Paul Kruger*, sy onregstreekse ondersteuning van lord Carnarvon se fe­derasieplanne, en sy houding oor Theophi­lus Shepstone se anneksasieplanne, het ná die anneksasie van die ZAR in April 1877 bygedra tot Burgers se bedanking. Die ontnugterde oud-president is verarm gelaat vanweë die feit dat sy besittings grotendeels tot voordeel van die ZAR-tekorte verpand is. Hy en sy gesin het tydelike verblyf op plase in die distrikte Hanover en Richmond gekry. Sy lewe het letterlik van predikant tot president tot plaasbywoner gewentel. Hy het uiteindelik eensaam gesterf. Sy laaste woorde was: “Ik hoor zingen, ik hoor zingen…”

Sidebar