BUTHELEZI, MANAS

BUTHELEZI, MANAS (1935–) is ’n eie neef van die bekende politikus Mangosut­hu Buthelezi*, en het gedurende die laaste dekades van die 20ste eeu diep spore op kerklike en ekumeniese* terrein in Suid-Afrika asook in die buiteland getrap. Biskop Buthelezi is tot met sy aftrede in 1999 as een van die belangrikste eksponente van Swart Teologie* beskou. Buthelezi is aan die Lutherse* Seminarie te Rorke’s Drift (kwaZulu-Natal) as predikant opgelei. Ná verdere studie aan Unisa, is hy na die VSA waar hy ’n meestergraad (Yale) en ’n doktorsgraad in teologie (Drew) verwerf het. Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy gou sy merk gemaak: as dosent aan die Lu­therse Seminarie te Mapumulo, as streekdirekteur van die Christelike Instituut* in Natal, as algemene sekretaris van die Evangeliese Lutherse Kerk*, en uiteindelik as die eerste swart biskop van sy kerk in Suid-Afrika. Hy was ’n uitgesproke kritikus van apartheid* en was ook bereid om vir die saak waarvoor hy gestaan het, te ly. Hy is in 1975 deur die destydse regering ’n tyd lank onder huisarres geplaas. Talle publikasies het uit sy pen verskyn en hy het jare lank in komitees van die Lutherse Wêreldfederasie en die Wêreldraad van Kerke* gedien.

Sidebar