BUTI, SAMUEL PALO ERNEST (SAM)

BUTI, SAMUEL PALO ERNEST (SAM) (1934–2010) se pa, Ernst*, was die eerste swart moderator* van ’n NG Kerk in Afrika (NGKA)*-streeksinode – met Sam as sy skriba. Buti het aan die Stofbergse Teologiese Skool, die Vrije Universiteit* van Amster­dam en die Princetonse Theological Semi­nary gestudeer. Sy eerste en enigste ge­meente was Alexandra waar hy in 1958 bevestig is. Buti was bekend vir sy ywer, maar ook voorwaardes, vir eenheid in die NG Kerkfamilie*. Hy was ’n stigterslid van die Broederkring (later die Belydende Kring*) – ’n pro-kerkeenheid- en anti-apartheid-druk­groep. In 1985 het hy moderator van die Algemene Sinode van die NGKA geword. Hy het ’n sentrale rol in die stigting van die Verenigende Gereformeerde Kerk in SA (VGKSA)* gespeel, en was die eerste swart NG dominee om president van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke* te word (1975–1981). Hy was ook assessor van die Gerefor­meerde Ekumeniese Sinode (1972– 1979).

Buti het ’n leidende rol in die plaaslike politiek gespeel. In 1975 het sy “Save Alexandra Society” dié township van hervestiging gered. Vanaf 1979 bestuur hy Alexandra, eers as voorsitter van die skakel­komitee en vanaf 1983 as burgemeester. Hy bedank in 1985 nadat Nelson Mandela* hom afgeraai het om mee te werk aan destydse staatstrukture. In 1985 vestig hy die Alexandra-ontwikkelingsfonds wat inwoners help om vir huislenings by banke te kwalifiseer. Hy is op 23 Augustus 2010 ná ’n lang siekbed oorlede.

Sidebar