BUTTERFIELD, HERBERT

BUTTERFIELD, HERBERT (1900–1979) was ’n Britse historikus en geskiede­nisfilosoof. Hy is gebore in Oxenhope in Yorkshire en het sy opleiding ontvang aan die Trade and Grammar School in Keighley. In 1922 het hy ’n MA-graad verwerf. Hy het in 1924–1925 aan die Princeton-universiteit gedoseer en daarna aan Cambridge tot 1979. Hy was redakteur van die Cambridge Historical Journal van 1938–1952 en het in 1968 ridderskap ontvang.

Butterfield was veral bekend vir sy werk The Whig Interpretation of History (1931). Sy belangstelling het in die velde van diplomatieke geskiedenis en historiografie gelê. Hy was van Christelike Protestantse* oortuiging met ’n besondere belangstelling in godsdienstige sake en het sy geskiedenisbeskouing gegrond op “die hand van God in die geskiedenis”. Voorts het hy ge­waar­sku teen ’n beskrywing van die geskiedenis aan die hand van hedendaagse sosiale aktualiteite. Hy het in totaal 17 historiese werke geskryf waaronder Christianity and History en Man and His Past: The Study of the History of Historical Scholar­ship, waar­in sy historiografiese uitgangs­punte vervat is. Hy het ’n besondere bydrae gemaak tot moderne historiografie.

Sidebar