BYBEL: MONDELINGE OORDRAG EN TEBOEKSTELLING

BYBEL: MONDELINGE OORDRAG EN TEBOEKSTELLING. Vir baie eeue is verhale* en liedere oor gebeure in die Ou-Testamententiese* tyd mondeling oorvertel (Eks 12:26-27). In Afrika* is mondelinge oorlewering vandag nog bekend. Vanaf onge­veer die 10de eeu vC word verskillende verhale en ander versamelings neergeskryf, hoe­wel mondelinge oorlewering steeds voortgaan. Tydens en ná die terugkeer uit die ballingskap* begin die verskillende boeke geleidelik vorm aanneem en word die neerskryf van die tora* en die profete* min of meer afgehandel. Drie groot groepe boeke word dan ná mekaar as deel van die Hebreeuse* Bybel aanvaar: die tora (± 400 vC), die profete (± 200 vC) en die ander ge­skrifte (± 100 nC). Tog bly die mondelinge tora naas die geskrewe tora onder die Jode* voortlewe om eindelik eers veel later skriftelik neerslag te vind in die Misjna en Talmoed*.

Jesus* het geen geskrifte nagelaat nie en Hy het ook nie sy dissipels* gevra om dinge op te teken nie. Mondelinge oorlewering was ná Jesus se opstanding* steeds belang­rik (1 Kor 11:2), maar nou was die ge­meente* oortuig van die lewende Here* se teenwoordigheid. Daar was ook geen bewuste poging om ’n Nuwe Testament (as “opvolg” van die Ou Testament) daar te stel nie. Wanneer daar in ons Nuwe Testament* na die “Skrif(te)” verwys word (1 Kor 15:3), verwys dit na die Ou Testament* wat die Vroeë Kerk* se Bybel was.

Die eerste Nuwe-Testamentiese boeke, was briewe* wat Paulus* in die lig van spesifieke omstandighede in gemeentes* geskryf het. Galasiërs* was moontlik die eerste (ongeveer 50 nC). Die eerste Evangelie (die Mar­­kus*-Evangelie) het as boek eers ongeveer 40 jaar ná Jesus se dood en opstanding ontstaan. Die mondelinge oorlewering deur die apostels* as oog- en oorgetuies het voor die skryf van boeke ’n belangrike rol gespeel (Luk 1:2), asook versamelings woor­de, gelykenisse* en wonderverhale van Jesus. Die boek Openbaring* is waarskynlik ongeveer 95 nC geskryf.

(Kyk ook by: Bybel; Bybelse norme; Bybelvertalingmetodes; Heilige Skrif; Skrifbeskouing; Skrifbewys; Skrifgebruik in die etiek; Skrifgesag; Skrifuitleg; Teksuitleg; Teopneustie.)

 

Sidebar