BYBELGENOOTSKAPPE

BYBELGENOOTSKAPPE. Die Bybel­ge­noot­skapbeweging het in 2004 sy 200ste bestaansjaar gevier. In 1804 is die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap in Londen gestig. Hierna is daar gaandeweg wêreldwyd Bybelgenootskappe gestig.

Die behoefte vir groter onderlinge same­werking het ontstaan, en in 1946 kom die Wêreldbond van Bybelgenootskappe (WBG) in Engeland tot stand. Vandag bestaan hier­die internasionale diensorganisasie uit 141 Bybelgenootskappe wat in meer as 200 lan­de werksaam is.

Die taak van Bybelgenootskappe is om die Bybel* so wyd, effektief en betekenisvol as moontlik te versprei in alle tale en formate wat in die wêreldwye behoeftes van mense voorsien, en wel in vertalings wat getrou is aan die Bybelse grondtekste.

Elke nasionale Bybelgenootskap funksioneer as ’n outonome organisasie, maar deur die WBG word kundigheid in Bybel­ver­taling, -produksie en -verspreiding gedeel. Die nasionale Bybelgenootskappe neem ook verantwoordelikheid vir die beheer van die WBG. Die destydse uitvoerende hoof van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA), ds Gerrit Kritzinger*, het vir die ter­myn 2005–2009 as voorsitter van die Wê­reld­raad van Bybelgenootskappe gedien.

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika is op 7 Maart 1820 in Kaapstad gestig en het in 1965 begin om as ’n outonome genootskap te funksioneer. Die BSA is ’n volle lid van die WBG en is daarvoor verantwoordelik om bekostigbare Bybels vir almal in Suid-Afrika beskikbaar te stel. Die BSA, met sy hoofkantoor naby Kaapstad, dien die kerk en die Christengemeenskap deur agt streek­kantore en streekrade wat meer as 60 kerkgenootskappe verteenwoordig. Dit maak die BSA een van die grootste eku­me­niese* organisasies in Suid-Afrika.

Die Bybelgenootskap speel ’n aktiewe rol om Bybelwerk in Suider-Afrika te bevorder. Die BSA het Bybelwerk in Botswana, Lesotho, Namibië en Swaziland gevestig en hierdie genootskappe tot selfstandigheid gelei. (Kyk ook: Jones, Mary*, en: Bybel­vertaling en –verspreiding*, asook: Bybel­vertalingsmetodes*.)

Vir verdere lees: Robertson, Edwin H 1996. Taking the Word to the World: 50 years of the United Bible Societies. Nash­ville: Thomas Nelson.

Sidebar