BYBELSE GELOOF

BYBELSE GELOOF is geloof* wat op die Bybelse* boodskap gebaseer is. Die essensie van Bybelse geloof is dat dit ’n gerigtheid op God behels. Dit gaan oor mense wat hulle vertroue en hoop op God as die God van liefde* stel.

In sy gerigtheid op God, kan Bybelse geloof verskillende vorms aanneem. Dit kan as vertroue manifesteer, soos in Abraham* se geval wat ná enkele woorde van God ’n reis na die onbekende onder­neem. Dit kan, soos in Job* se geval, protesteer. Dit kan, soos in Jeremia* se geval, kla. Dit kan, soos in die digter van Psalm 42 se geval, verlang. Dit kan, soos in Noag* se geval, as stroom-op beleef word. Dit kan, soos ’n mosterdsaad, klein wees. Dit kan selfs, soos in Tomas* se geval, krities wees. Dit kan jubel en juig en twyfel. Dit is ’n komplekse verskynsel. Dit is om as volledige mens voor die aangesig van God te leef. Karl Barth* het graag gepraat van die leeg­heid van die geloof. Met dié uitdrukking wou hy te kenne gee dat die geloof in sigself volkome onverdienstelik is. Die geloof is dus nie ’n menslike werk wat in homself enige waarde het sodat dit deur God beloon moet word nie.

Vir verdere lees: GC Berkouwer 1954. Faith and justification. Grand Rapids: Eerd­mans. WD Jonker 1981. Die Gees van Chris­tus: Wegwysers in die dogmatiek. Pretoria: NGKB. A König 1983. Heil en heilsweg. Pretoria: NGKB. A König 2001. Fokus op die 300 geloofsvrae wat mense die meeste vra: ’n Verwysingsgids vir elke huis. Wellington: Lux Verbi.BM.

Sidebar