BYBELVERTALINGMETODES

BYBELVERTALINGMETODES. By­bel*­ver­taling is ’n moeilike vorm van kommunikasie. Tot ongeveer 1950 is aanvaar dat woord-vir-woord (“formeel-ekwivalente”) vertalings, soos die Afrikaanse 1933/1953-vertaling, getrouheid aan die bronteks waarborg. Gaandeweg het die klem egter van woorde na sinne verskuif as draer van betekenis. Hiermee saam stel Eugene Nida as doel dat vertaling in die hedendaagse lesers/hoorders se gebruikstaal dieselfde effek moet hê as wat dit vir die brontaalteks se oorspronklike lesers/hoorders gehad het. Dit is die “dinamies-ekwivalente” (later genoem “funksioneel-ekwivalente”) bena­de­ring (soos die Afrikaanse 1983-vertaling). Ontwikkeling in die vertaalwetenskap maak duidelik dat ook gestreef moet word na ekwivalensie tot op die vlak van teks-eenhede. Intussen het daar op privaat inisiatief verskeie ander Bybelvertalings in Afrikaans* verskyn – van wisselende gehalte en met verskillende vertaalbenaderings, en wat meermale swaar leun op bestaande Engelse/Amerikaanse publikasies.

Die vraag is verder of ’n vertaling (ook van die Bybel) die funksie vervul wat die opdraggewer gestel het (“funksionalistiese” benadering, Christiane Nord). Ernst-August Gutt wys daarop dat die denkwêrelde van die brontaalteks (Hebreeus*, Aramees, Grieks*) en die doeltaalteks (vir ons doel hier, Afrikaans*) in tyd en ruimte baie ver van mekaar verwyder is. Volgens Gutt wil ’n direkte vertaling (soos in direkte rede) presies sê wat die Bybelteks sê, nie in Hebreeus of Grieks nie, maar in goeie Afrikaans (of watter taal ook al). Dit is nié ’n sogenaamde letterlike vertaling nie. ’n Direkte vertaling handhaaf die vreemdheid van die teks wat uit ’n ander sosiokulturele wêreld kom en verleen waar nodig met notas hulp aan die leser. ’n Indirekte vertaling wil ook sê wat die teks sê, maar in ander woorde (soos in indirekte rede). Dit erken die proses van interpretasie, wil nie meer sê as die bronteks nie, maar sou woorde kon kies wat op ’n spesifieke gehoor soos dowes of kinders afgestem is.

Moderne vertaalkunde onderskei tussen die inisieerder (vir die huidige amptelike Afrikaanse Bybelvertalingprojek is dit bv die kerke wat die Afrikaanse Bybel gebruik), die opdraggewer (die Bybelgenootskap*) en die vertalers (deur die kerke en Bybelgenootskap aangewys), wat in hierdie geval Bybelwetenskaplikes, bron­taal­kenners, taalpraktisyns, taal- en letterkundiges insluit.

Volgens geldende vertaalteorie, is vir die Afrikaanse Bybelvertalingprojek wat deur die Bybelgenootskap in 2006 op versoek van die kerke begin is, ’n duidelike Vertaalopdrag vooraf opgestel waarmee die lidkerke van die Bybelgenootskap se Advieskomitee hulle vereenselwig het. Die vertaalopdrag is die resultaat van onderhandeling tussen die opdraggewer (Bybelgenootskap en kerke) en die vertalers. Die vertaalopdrag lui: “Skep ’n goed verstaanbare, bronteksgeoriënteerde Afri­kaanse vertaling van die Bybel wat geskik is vir voorlesing en gebruik in eredienste, asook vir kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik”. Dié vertaling – Die Bybel: ’n Direkte Vertaling (BDV) – sal waarskynlik voor 2020 voltooi wees. ’n Voorsmaak daarvan, ’n vertaling van die Nuwe Testament* en Psalms*, het in 2014 verskyn.

(Kyk ook by: Bybel in Afrikaans.)

Vir verdere lees: CHJ van der Merwe 1999. “’n Konkordante vertaling van die Bybel in Afrikaans: Is dit hoegenaamd verantwoordbaar en hoe sal dit lyk?” Neder­duitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif 40, bl 293-306. CHJ van der Merwe en CS Basson 2003. “’n Nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans: ’n Teoretiese en praktiese oriëntering” Nederduitse Gerefor­meerde Teologiese Tydskrif 44, bl 550-567.

 

Sidebar