BYGELOOF

BYGELOOF word onderskei van kettery* of dwaling*. Terwyl lg te doen het met die kerklike leer wat verdraai word (Kyk by: Leerdwaling), het bygeloof eerder te doen met vreemde oortuigings wat nie met die Christelike geloof* te rym is nie. Dit is iets waaraan mense afsonderlik van hulle geloof, en dikwels teenstrydig daarmee, “glo” – dit kom “by” hulle geloof, dis by-geloof. Voorbeelde daarvan is dat sommige mense oortuig is dat 13 ’n ongelukkige getal is, dat Vrydag die 13de van die maand ’n ongelukkige dag is, dat vier mense mekaar nie oorkruis moet groet nie, en duisend ander vreemde dinge. Hierdie oortuigings kom dikwels by Christene* voor, en meestal bring hulle dit glad nie eens met hulle geloof in verband nie. Dit is egter sinnelose oortuigings wat geen verband met die werklikheid het nie, en ook nie tot eer van die Here* kan wees nie. Onbewus skryf mense mag aan onpersoonlike dinge toe wat eintlik net aan God toekom, en mense leef later in vrees omdat hulle nie die eer aan die Here gee nie.

 

Sidebar