CAESAR

CAESAR beteken in Latyn “keiser*” en word verbind aan verskeie Romeinse kei­sers. Die bekendste onder hulle is Julius Caesar, beroemd as redenaar en skrywer. As bedrewe politikus wat baie gewild was weens sy gunste aan die volk, het hy vinnige opgang gemaak en is tot verskeie belangrike openbare ampte verkies. So was hy konsul in Rome in 59 vC tydens die laaste fase van die Romeinse Republiek (Kyk by: Romeinse Ryk) en deel van die “eerste driemanskap” saam met Pompejus en Krassus. Ná sy oorwinning oor Gallië in sy bekende Galliese oorloë, steek hy in 49 vC die Rubikon-rivier oor na Italië om Rome in te val en die mag vir homself toe te eien. Sy vernaamste teenstander, Pompe­jus, wyk uit na Griekeland. In die daarop­volgende burgeroorlog verkry Caesar met die slag van Farsalus in 48 vC die oorhand. Hy veg ook in Egipte* waar hy ’n seun het by Kleopatra*. In 44 vC word hy alleenheerser van die Ryk. Hoewel hy sy politieke opponente grootmoedig behandel, is hy in Maart 44 vC in ’n sluipmoord vermoor, onder andere deur sy vertrouelin­ge Brutus en Kassius. Hy is reeds tydens sy lewe deur die volk as god vereer, maar is amptelik eers na sy dood tot god verklaar.

 

 

Sidebar