CALVYN, JOHANNES

CALVYN, JOHANNES (1509–1564). Jean Calvin (sy Franse naam en van) is in Noyon in Frankryk gebore. Deur sy kommentare op haas elke boek van die Bybel* sowel as sy wydgelese Institusie of Onderwysing in die Christelike Godsdiens, beïnvloed hy baie geslagte predikante en ander gelowiges in verskillende wêrelddele: Switserland, Duitsland, Hongarye, Frankryk, Nederland, Engeland, Skotland en later ook Noord-Amerika, Suidelike Afrika, Korea en wyer.

Ná voorbereidende studie in die regte, verdiep hy hom na 1531 in die klassieke tale en die teologie*. In hierdie tyd word hy vir die Reformasie* gewen. As gevolg van sy hulp met die “reformatoriese” rektorale rede van sy vriend Nicolas Cop aan die Universiteit van Parys in 1533, moet Calvyn uit sy geboorteland vlug. In 1536 verskyn die eerste uitgawe van sy Institusie wat aan hom onmiddellike bekendheid en respek in ’n wye kring in Wes-Europa be­sorg.

Op pad na Basel na wat vir hom na ’n stil akademiese loopbaan gelyk het, word hy een aand in Julie 1536 dramaties deur Guilluame Farel (1489–1565) oorreed om in die Frans-Switserse Genève te bly. Sy opdrag: Kom wy jou aan die reformasie van kerk en samelewing in hierdie stad!

In 1539 word hy vanweë teenstand ver­plig om Genève vir Straatsburg te verruil. Hier werk hy saam met Martin Bucer*. In 1541 word hy teruggeroep na Genève. In hierdie tyd sorg Calvyn vir drie van sy be­kendste werke: sy Geneefse Kategismus wat ’n belydenis in vraag-en-antwoord-vorm is; sy Geneefse Kerkorde, die Ordonnances Ecclésiastiques; en die derde bygewerkte en vergrote uitgawe van sy Institusie. Laasge­noemde verskyn in 1543.

In 1559 slaag hy daarin om die Geneefse Akademie tot stand te bring. Bekende gere­f­ormeerdes soos John Knox* van Skotland, Marnix van St Aldegonde van Nederland en Caspar Olevianus wat in 1563 meewerk aan die opstel van die Heidelbergse Kategis­mus*, studeer hier. In 1559 gee Calvyn die vyfde en laaste uitgawe van sy Institusie uit. Dit is nou vier maal meer uitgebreid as sy eerste uitgawe.

Soos Luther*, leer Calvyn dat ’n mens deur die genade* en die geloof* alleen, op grond van wat die Skrif* alleen leer, gered word. Volgens hom het God uit genade mense vooraf uitverkies* om te kan glo, terwyl Hy diegene wat nie glo nie, verwerp het. Calvyn lê klem op die soewereiniteit van God wat deur die mens met alles wat hy het, geëer moet word. Volgens hom het die wet* van God drie funksies: dit is ’n kenbron vir die sonde, dit vorm die grondwet van die samelewing waarin kerk* en staat* die Here* moet eerbiedig, en dit is die reël waarvolgens mense wat dankbaar is oor hulle verlossing, lewe.

Vir verdere lees: John W de Gruchy 2011. John Calvin – Christian Humanist and Evangelical Reformer Wellington: Lux Verbi.BM.

PJ Strauss

Sidebar