CHRISTEN

CHRISTEN. In Antiogië* is die dissi­pels*/ gelowiges vir die eerste keer “Chris­tene” genoem (Hand 11:26). Dié naam kom slegs nog twee keer in die Nuwe Testa­ment* voor (Hand 26:28; 1 Pet 4:16). Hierdie naam vir gelowiges is waarskynlik aanvanklik deur teenstanders van die navolgers van Christus* gebruik. Dit was eers la­ter (in die eerste eeu) dat dit deur Christene as self-aanduiding aanvaar is. Die gebruik daarvan in die eerste brief van Petrus* dui reeds op ’n “eretitel”. Die naam dui op verbondenheid deur geloof* in en navolging van Jesus* Christus*: gelowiges is na Hom vernoem.

In ’n groot deel van die Christelike ge­loofstradisie kry hierdie naam die karakter van ’n dienstitel. Dit gebeur vanweë die koppeling daarvan aan die naam “Chri­s­tus”. Christus is Jesus se “ampsnaam”. Hier­die Jesus is gesalf tot, aangestel as, die Chris­tus (vgl Hand 2:36). Hy het volmag om Priester, Profeet en Koning te wees. Hieruit word dan afgelei en bely dat Christene vanweë hulle verbintenis aan Hom, ook priesters*, profete* en konings* is. Die naam ontwikkel dus vanaf ’n verwy­sing deur teenstanders na die groep mense wat hierdie Gekruisigde volg, tot selfaanduiding van wie ons as gelowiges is, tot aanduiding van die diens/opdrag waartoe navolgers van Christus in die samelewing geroep/gesalf is.                                M Nel

Sidebar