CAREY, WILLIAM

CAREY, WILLIAM (1761–1843) is naby Northampton in Engeland gebore. Vandat hy 16 jaar oud was tot op 28 was hy ’n skoenmaker se leerjonge. In 1785 het hy ’n beroep as pastor van ’n klein Baptiste*gemeente aanvaar. Hy is later na ’n gro­ter gemeente, in Leicester. Wat hy oor kaptein Cook se reise gelees het, het sy belangstelling oor die filosofie van sending* geprikkel en hom ’n oortuigde ondersteuner van buitelandse sendingaksies ge­maak. Die Baptiste-Sending­genootskap is onder sy in­vloed gestig.

Carey het ’n leke-Baptis en mediese dokter, John Thomas, na Indië vergesel. In 1793 het hulle daar aangekom, en kennis gemaak met die vyan­dig­heid van die Oos-Indiese Kom­panjie, wat teen die sending­werk gekant was. Carey het later verskuif na Malda, waar hy as voorman in ’n indigofa­briek gewerk het. ’n Baptiste­kerk is in 1795 gestig met vier Engelse. Ná byna sewe jaar se swoeg in Bengale het Carey nog niemand tot bekering gebring nie. Hy het Malda in 1800 hartseer verlaat.

Carey het die daaropvolgende 34 jaar in Serampore deurgebring, waar hy die hele Bybel* in Bengali, Sanskrit en Marathi vertaal het en ook met ander vertalings gehelp het. Een van sy grootste prestasies is die stigting in 1819 van ’n kollege in Serampore waar kerk­stigters en evangeliste opgelei is. Hy word “die vader van die moderne sending” ge­noem.

Sidebar