CARSTENS, JOHANN CHRISTIAAN (CASSIE)
CARSTENS, JOHANN CHRISTIAAN (CASSIE) (1947–2016). Hierdie kleurryke predikant van die NG Kerk* met sy veelkleurige onderbaadjies het op talle terreine sy gawes gebruik. Hy is in Pretoria gebore en voltooi sy teologiese studie in 1971 aan die Universiteit van Pretoria. Sy eerste gemeente is Villieria. As kamporganiseerder van die sinode* van Noord-Transvaal lei hy honderde jongmense op om in hulle gemeentes en by skoolverlater- en dienswerkkampe diens te lewer. Hy trou in 1978 met Elza Lombard, die sekretaresse van die Jeugkantoor, wat hom vroeg ontval. Hy was predikant van die gemeentes Pietersburg-Noord en Wierdapark-Suid, en word skriba van die Noord-Transvaalse (1991–1997) en die Algemene Sinode (1998–2004). As orrelis en kenner van kerkmusiek is hy bekend vir sy kooroptredes, veral massakore, en dien in talle kommissies oor die kerklied. Sy magnum opus is sy werk as ’n eindredakteur van die Liedboek van die kerk (2002). Hy versamel seëls en is verkies as president van die Filateliese Federasie van Suid-Afrika. Een van Carstens se seuns is gay en hy het onbeskroomd in sinodes en elders vir homoseksuele* mense en hulle regte in die bres getree.