CASSIDY, MICHAEL

CASSIDY, MICHAEL (1936–) is in Johan­nesburg gebore, het in Lesotho grootgeword en voltooi sy skoolopleiding aan Michaelhouse in kwa­Zu­lu-Natal. Hy behaal MA aan die Univer­siteit van Cambridge en ’n BD aan Fuller Theological Seminary in die VSA. Van 1962 af stuur hy ’n evangeliese aksie in Pietermaritzburg van stapel, bekend as African Enterprise. Die hoofdoel van hier­die organisasie is ’n evangeliese bediening*, leierskapontwikkeling, ontwikkelingshulp en versoening*. Sowel in Suid-Afrika as daarbuite het Afri­can Enterprise tot ’n groot interkerklike ini­siatief uitgegroei, en daar is in verskeie Afrika*-lande aktiewe aksies onder hulle vaandel. Cassidy het intussen ook ’n sterk leiersrol in verskeie ak­sies soos PACLA* (1976 en 1994) en SACLA* (1979 en 2003) gespeel. Hy het ’n aandeel gehad in kerkeberade in Suid-Afrika wat die weg help baan het vir ’n vreedsa­me oorgang na ’n nuwe bedeling, soos die Rustenburgberaad* (1990). Etlike publikasies het uit sy pen verskyn, waar­onder sy outobiografie, The Passing Summer. Die Azusa Pacific-universiteit van Suid-Kalifornië het in 1993 ’n eredoktorsgraad aan hom toe­geken en in 1983 het hy lid van die Order of Simon of Cyrene geword – ’n eerbewys van die Anglikaanse Kerk*.

Sy dogter, Debrah, is met Gary Kirsten, bekende oud-Protea-krieketspeler, getroud.

 

Sidebar