CASTRO, EMELIO

CASTRO, EMELIO (1927–) studeer van 1953 tot 1954 in Basel onder Karl Barth* met ’n beurs van die Wêreldraad van Kerke (WRK)*. Van 1959 tot 1973 is hy betrokke by verskeie kerklike, akademiese en ekumeniese organisasies in Suid-Ameri­ka, onder andere as professor in teologie*, president van sy kerk (die Evangeliese Metodiste­kerk van Uruguay) en as koör­dineerder van die “Commi­sion for Evangeli­cal Unity in Latin America” (1965–1972). As direkteur van die kommissie van wêreldsending en evangelisasie van die WRK (1973–1983), neem hy deel aan besinning oor die betekenis en doel van Chris­telike sending* in sy tyd. Hy behaal ’n doktorsgraad aan die Universiteit van Lausan­ne in 1984. Hy skryf ’n paar boeke, waaronder Sent Free – Mission and Unity in the Perspective of the Kingdom (1985) en When we Pray Together (1989). Hy word die vierde hoofsekretaris van die WRK in 1985 en beklee die posisie tot 1992. Castro het in 1991 die eerste WRK-afvaardiging in 30 jaar na Suid-Afrika gelei, nadat die destydse regering dit vir leiers van die WRK moeilik gemaak het om Suid-Afrika te besoek ná die Cottesloe-kerkeberaad* wat die WRK in 1960 gereël het om die politieke situasie in die land te bespreek.

Sidebar