CHALCEDON, SINODE VAN

CHALCEDON, SINODE VAN. Die Sinode van Chalcedon (451), wat op versoek van pous Leo I* deur keiser Marsianus byeengeroep is, het veral bekend geword as gevolg van ’n duidelike uitspraak oor die twee nature van Christus*. Teen die vyfde eeu moes die kerk duidelikheid kry oor twee Christologiese* afwykings, naamlik dié van Nestorius* en Eutiges. Nestorius het die onderskeiding tussen die twee nature in Christus só sterk benadruk dat die eenheid van die persoon van Christus in gedrang gekom het. By hom word die vereniging van die twee nature ook ’n vereniging van twee persone. Hierdie leer is duidelik verwerp by die Sinode van Efese (431), waar Nestorius ook veroordeel is. Eutiges, aan die anderkant, sien dit so dat daar ná die vleeswording eintlik nie meer van twee nature gepraat kon word nie. Daarom word die twee nature van Christus tot een God-menslike natuur vermeng sodat die grens tussen God en mens heeltemal vervaag. Hierdie leer staan bekend as monofusitisme*, en dit is uitdruklik verwerp by die Sinode van Chalcedon, waar Eutiges veroordeel is. Vandaar ook die bekende uitspraak van hierdie sinode: “In Christus die Middelaar is die twee nature onvermeng en onveranderd, ongedeeld en ongeskei.” Hiermee is sowel die vermenging as die skeiding van die nature verwerp.

Sidebar