CHANGUION, ANTOINE NICOLAS ERNEST

CHANGUION, ANTOINE NICOLAS ERNEST (1803–1881) is in Den Haag gebore en was die seun van die eerste Nederlandse ambassadeur in die VSA. Hy het in Nederland en Duitsland opgegroei waar hy ses tale leer praat het. Hy studeer vervolgens teologie* in Leiden, maar word in 1830 oorreed om ’n pos as professor in klassieke en moderne tale aan die Athe­neum van die Universiteit van Kaap­stad te aanvaar.

Vanweë persoonlikheidsbotsings met die bestuur van dié inrigting en sy teenstand met die verengelsingsbeleid van die owerheid, bedank hy in 1842 en stig sy eie skool in Strandstraat, Kaapstad – ’n pro-Afri­kaan­se instelling met leerlinge soos TF Bur­gers* en HCV Leibrandt, asook die toekoms­tige pres Jan Brand.

As deel van sy prominente opvoedkundige bydrae is Changuion betrokke by die skryf van talle skoolboeke en ander werke. Hy publiseer onder meer die eerste siste­matiese studies van die verskille tussen Nederlands en Kaapse Afrikaans.

Op godsdienstige gebied was hy liberaal-gesind en hy het hom tydens die sinode* van 1857 uitgespreek teen die stigting van ’n eie teologiese kweekskool vir die NG Kerk*. Soos verskeie van sy tydgenote on­der­vind hy baie teenstand van die ortodok­se predikante en keer in 1865 as ontnugterde na Europa terug.

Sidebar