CHARISMA

CHARISMA. Die Griekse* woord charisma (meervoud: charismata) beteken “gawe” of “geskenk” en dit hou verband met charis (genade*). As gawe* van die Heilige Gees* dui die woord in die Nuwe Testament* op God se inisiatief met die herstel van die mensdom tot heelheid en harmonie. Die besinning in 1 Kor 12:1–14:40 oor die aard en gebruik van charismata in die ge­meente*, beklemtoon dat elkeen ’n gawe ontvang het, maar dat die gawes die ge­meente*, en nie die indiwidu in die eerste plek nie, tot voordeel moet strek. Die inklusiewe aard van charisma blyk uit die beskrywing van die ewige* lewe (Rom 6:23). Charismata sluit in kerugma (bv 1 Kor 12:28-31), diakonale diensle­we­ring* (bv Rom 12:7-8), wonder­werke* en genesings* (bv 1 Kor 12:6), lyding* en ontbering ter wille van die evangelie* (2 Kor 1:5-7), en ’n verskeidenheid van spesifieke roepings* (Rom 1:11; 1 Kor 1:7; 7:7). Charisma en die byvoeglike naamwoord, charismaties, dui dikwels in populêre verband op ’n besondere karaktereienskap van ’n persoon en word veral met leierskap in verband gebring. Binne die Christelike kerk* verwys charismaties na instellings en groepe se aard en/of styl sowel as persone en sake waar doelbewus en direk op die invloed en leiding van die Heilige Gees aanspraak gemaak word.

 

Sidebar