CHARISMATIESE BEWEGING (HISTORIES)

CHARISMATIESE BEWEGING (HISTORIES). Die Charismatiese beweging wat in die 1960’s opgebloei het, moet duidelik onderskei word van die Pinkster­beweging* wat in 1906 in Los Angeles begin het. Die een groot verskil is dat die Charis­matiese beweging in die historiese kerke ontstaan en opgebloei het, terwyl die Pink­ster­beweging van die begin af in afsonderlike kerke georganiseer is. Die Charisma­tiese beweging het voorlopers in onafhanklike evangeliste in die 1940’s gehad soos William Branham en Oral Roberts. Die rol wat die Suid-Afrikaanse Pinkster-pastoor Da­vid du Plessis* sedert die 1950’s gespeel het om kontak tussen die Pinksterbeweging en die historiese kerke te bevorder, het hierdie kerke later meer toeganklik vir die Charismatiese beweging gemaak.

Die ontstaan van die Charismatiese be­we­ging word direk geassosieer met die doop in die Heilige Gees*, en dit word algemeen aanvaar dat die beweging begin met die aankondiging van die Episkopaalse (An­gli­kaanse*) biskop Dennis Bennet op 3 April 1960 in sy kerk in Van Nuys, VSA, dat hy met die Gees gedoop is. Die beweging het vinnig in die Episkopaalse, Lutherse* (Larry Christenson) en Katolieke* kerke versprei, en geleidelik in omtrent al die historiese kerke. Die sterkste teenstand het van die Ortodokse Kerke* en die Southern Bap­tist Convention gekom. In die 1970’s is gaan­deweg onafhanklike Charismatiese kerke gestig.

In die 1980’s het die sogenaamde Derde Golf (Third Wave, naas die Pinkster- en Charismatiese beweging) ontwikkel, die “Signs and Wonders”-beweging onder lei­ding van John Wimber en C Peter Wagner. ’n Kursus met nadruk op wonderwerke en genesing is aan die Fuller Theological Semi­nary, Pasadena, aangebied. Die groot Vineyard* Fellowship het hieruit ontwikkel. Daar het ook ’n aantal groeperings ont­staan waarvan die benamings beter in Engels bekend is: The Restoration Move­ment, The Power Encounter Movement (The Vineyard Fellowship), The Dominium or Kingdom Now Movement, The Faith Movement.

In Suid-Afrika het dit in die Anglikaanse Kerk* begin. Die eerste onafhanklike Cha­ris­matiese kerk is gevorm uit die Hatfield-Baptiste Kerk in Pretoria onder leiding van Ed Roebert. Hierdie kerk het om kerkordelike redes van die Baptiste-konferensie weggebreek. Die groot onafhanklike Charismatiese kerke het die International Federation of Christian Churches gevorm.

 

Sidebar