CHARISMATIESE BEWEGING (TEO­LO­GIES)

CHARISMATIESE BEWEGING (TEO­LO­GIES). Die Charismatiese beweging herberg ’n groter verskeidenheid oortui­gings as die Pinksterbeweging* waarvan die teologie* redelik maklik omskryf kan word. Tussen groepe soos die Faith Movement en die Vineyard Fellowship bestaan daar groot en selfs ingrypende verskille. Nogtans kan ’n mens na die Four Square Gospel verwys (Jesus* as die Verlosser*, die Geneser, die Doper met die Gees, en die komende Ko­ning). Verder is daar ’n aantal sake wat redelik algemeen na vore kom, al is dit dan in heel verskillende beklemtonings. Jesus, en veral Jesus as Here*, is van die begin af in die sentrum. Baie van die ander sake hou direk met Hom en sy heerskappy verband. Die lofprysingsliedere toon dit duidelik. ’n Ongekende vloed van nuwe liedere het ontstaan en ontstaan nog steeds. Die Bybel* neem ’n sentrale plek in. Hulle word selfs van fundamentalisme* beskuldig. Maar gelyktydig daarmee glo hulle dat die Here vandag nog direk met hulle praat, en dat dit nie beperk is tot die gawe (Kyk by: Gawes van die Gees) van profesie nie. Gelowiges getuig dat hulle die stem van die Here hoor. Verder het hulle ’n be­son­dere belewing van die werklikheid van die Bose* en bose magte*. Eksorsisme* speel ’n belangrike rol in die meeste dele van die Charismatiese beweging. Hulle aanvaar nie net in beginsel dat die gawes van die Heilige Gees* nog voorkom nie. Hulle beleef en beoefen dit aktief, en aanvaar dit as die normale toerusting van God vir sy kerk*. Veral talespraak, profesie en genesing kom baie voor.

Die een oorheersende saak is egter die doop met die Gees (Kyk by: Doop met die Heilige Gees). Dit kan as dié kenmerk van die Charismatiese beweging beskou word. Terwyl die Heiligheidsbe­weging* praat van die vervulling met die Gees wat lei tot oorwinning oor die sonde* en ’n heilige* lewe, praat die Charismatiese beweging van die doop met die Gees wat krag gee om te getuig. En hierdie getuienis is deel van hulle normale lewe.

 

Sidebar