CHESEREM, JOSEPH (SENGERUT)

CHESEREM, JOSEPH (SENGERUT) (1906–1996) word beskou as die vader en inisieerder van die proses wat gelei het tot die stigting van die Reformed Church of East Africa (RCEA) in Kenia. Hy begin as jong seun werk op die plaas van ’n Suid-Afri­kaner in Kenia, AJ Mouton, en kom mettertyd onder die indruk van die evangelie* wat sy werkgewer met hom deel. Ná ’n dramatiese genesing van ’n amper-terminale siekte kom hy tot bekering* en word uiteindelik in 1953 gedoop*. Intussen help hy met evangelisasiewerk op plase en dring saam met ander daarop aan dat die NG Kerk* ’n voltydse sendeling* beroep. Dit lei in 1944 tot die koms van eerw BB Eybers, voorheen van Malawi. Daarmee kry die RCEA al meer beslag. Hoewel Cheserem nooit leer lees en skryf het nie, word hy onthou as een wat die stem van Afrika verteenwoordig het toe NG lidmate uitgedaag is om die evangelie na sy mense te bring. Hy was nie net ’n kenner van sy kerk se vroeë geskiedenis nie, “he is the history of the Church”, verklaar die moderator* van die RCEA-sinode ná sy dood.

Vir verdere lees: JM Cronje 1981 Aan God die dank. Geskiedenis van die sending van die Ned Geref Kerk, Deel 2. Pretoria: NGKB. J van Zyl 2001 The Impact of Reformed Missions on the Origin, Growth and Identity of the Reformed Church of East Africa (1905–2000). DTh-proefskrif, Universi­teit van Stellenbosch.

Sidebar