CHIKANE, FRANK

CHIKANE, FRANK (1951–) is ’n bekende kerk- en gemeenskapsleier met diep spore in Suid-Afrika en in die internasionale gemeenskap. Gedurende die laaste dekades van die 20ste eeu was hy veral as kerkleier bekend – ’n pastoor van die Apostoliese Geloofsending* (AGS) wat in sy prediking en openbare optredes die stryd teen apartheid* opgeneem het. In die 1980’s, toe hy Beyers Naudé* as sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke* opgevolg het, het hy op talle gebiede sterk leiding geneem. Hy moes egter heelwat teenstand, ook uit sy eie kerk se geledere, verduur. Hy is by verskillende geleenthede deur die Veiligheidspolisie gearresteer en selfs gemartel. Oudminister Adriaan Vlok*, destydse minister van polisie, het in 2006 Chikane se voete in sy kantoor gaan was om daarmee sy skuld oor wat hom aangedoen is, te bely. Na afloop van die stryd teen apartheid, het Chikane ’n groot rol in die vereniging van die swart- en wit-afde­lings van die AGS gespeel. Hy was ook medevoorsitter by die geskiedkundige Rustenburg-kerkeberaad* van 1990. Hoewel hy in ’n stadium president van die gesamentlike swart, bruin en Indiër-afdeling van die AGS was, is hy in later jare (2012) in ’n verkiesing vir die presidentskap van die verenigde AGS deur die dienende president, Isak Burger*, geklop.

In 1995 het Chikane se loopbaan in die staatsdiens begin, eers as spesiale adviseur en later as direkteur-generaal in die kantoor van die destydse adj-pres Mbeki*. Toe Mbeki in 1999 president van die land geword het, is Chikane as direkteur-gene­raal in die Presidensie aangestel. Hy is die ontvanger van talle eerbewyse en eregrade en dien in verskeie direksies en rade in Suid-Afrika. Kort nadat Mbeki se presidentskap in 2007 tot ’n skielike einde gekom het, het Chikane ook uit die staatsdiens getree. Oor die gebeure rondom Mbeki se uittrede, het Chikane ’n insiggewende boek geskryf, xxxx 

Sidebar