CHINA EN DIE CHRISTENDOM

CHINA EN DIE CHRISTENDOM. Die “People’s Republic of China” is die land met die grootste bevolking op aarde – nagenoeg 1,4 biljoen mense. In die afgelope anderhalwe millennium het talle buitelandse Christelike sendinggroepe probeer om ’n vastrapplek in China te kry, maar sonder veel sukses. Met die jongste eeuwisseling het daar ’n verandering gekom. Die Christelike* geloof* het volgens alle aanduidings uiteindelik wortelgeskiet en ontwikkel tot ’n egte Chinese godsdiens. Beramings verskil, maar sommige kundiges meen dat Christene in 2010 reeds amper 8% van die Chinese bevolking uitgemaak het – sowat 105 miljoen mense. Hoewel die Chinese regering steeds kommunisties* en die Chinese Kommunistiese Party amptelik ateïsties* is (sien Time,1 September 2014), en nie simpatiek staan teenoor godsdiens van enige aard nie, duld hulle godsdiens solank dit nie die openbare orde versteur nie. Die owerheid vereis registrasie van goedge­keurde godsdienste (die Kommunistiese Party het vyf godsdiensrigtings “goedge­keur”: Boeddhisme*, Taoisme, Islam*, Katolieke* en Protestantse* Christendom*). Mense wat by goedgekeurde kerke en tempels wil aanbid, moet hulle ook laat regi­streer. In die afgelope tyd het daar egter ’n opbloei gekom van die nie-amptelike, nie-geregistreerde huiskerke, waar die Chris­telike geloof besonder sterk groei. In Wenz­hou, ’n stad in die kusprovinsie Zhei­jian wat onder Chinese Christene as “China se Jerusalem” bekend staan, is 15% tot 20% van die bevolking reeds Christene, ’n feit wat aan kerkleiers heelwat bedingingskrag in hulle onderhandelings met plaaslike Party-amptenare gee. (Time, 28 Augustus 2006.)

Vir verdere lees: Jason Mandryk (red) 2010. Operation World, 7de hersiene uitgawe, Colorado Springs: Biblica Publishing, bl 214-251.

 

Sidebar