CHO, DAVID YONGGI

CHO, DAVID YONGGI (1936–) groei op onder die invloed van Oosterse godsdiens­te. Op 17-jarige leeftyd ontwikkel hy tuberkulose en draai by die dood om. In dié tyd wy Cho sy lewe aan Christus*. Hy begin in 1956 met sy studies aan die Full Gospel Bible College in Suid-Korea. In 1958 ontstaan die Yoido Full Gospel-gemeente waarvan pastor Cho die medestigter was. Die gemeente het in 2014 meer as 800 000 lidmate gehad. Op Sondae word daar elke tweede uur ’n erediens gehou wat deur nagenoeg 12 000 mense bygewoon word. Die sang word begelei deur ’n groot orrel en ’n simfonie-orkes met sangers en kore. Die preke is in Koreaans en word deur middel van gehoorstukke in die kerkbanke in agt tale vertaal.

Sedert 1965 hou Cho herlewingsdienste regoor Suid-Korea. Tot op datum het Cho reeds meer as 180 verskillende evangelisasie*veldtogte oor die wêreld gelei in lande soos Thailand, Australië, Rusland en Suid-Afrika (1993).

In 1968 begin Cho met ’n Christelike radioprogram. Sedert 1996 word die eredienste van YFGC deur middel van satelliet na 100 verskillende gemeentes in onder meer Korea en Japan uitgesaai.

Van 1975 af staan sending* vir Cho op die voorgrond. In 1976 ontwikkel hy die Full Gospel-Sakelui-sen­dinggroep waarin 36 sendingaksies saam­ge­groepeer word. Hy stig ’n uitgewery met publikasies in Koreaans en Engels. Satelliet-kerke word as deel van die oorspronklike Yoido Full Gospel-kerk ontwikkel. Cho begin met ’n Christendag­blad, Kookmin Daily Newspaper, rig gebedshuise in gemeentes op en stig ’n internet-stasie met die oog op die uitdra van die evangelie*.

Vir verdere lees: http://english.fgtv.com/ drcho/pri1.asp\par

Sidebar