CHRISTELIKE FILOSOFIE

CHRISTELIKE FILOSOFIE. Die term “Christelike filosofie” is nie ’n baie bruikbare benaming nie, omdat dit na te veel verskillende, uiteenlopende sake kan verwys. Die enigste gemene deler tussen hierdie verskeidenheid van sake is die een of ander (poging tot) vermenging van die Westerse filosofiese tradisie met die gods­dienstige gedagtegoed van die Christen­dom*. Die volgende is daarom slegs ’n kortlys van die belangrikste betekenisse van die term: 1. Pogings om die denkbeelde en begrippe van Christelike leerstellings en teologiese vertolkings daarvan filosofies te analiseer en te sistematiseer, bv deur begripsontleding. Dit kan die vorm aanneem van filosofiese teologie, ’n hulpdissipline vir die teologie*, waarin die voorveronderstellings en denkskemas van die teologie krities bevraagteken word aan die hand van maatstawwe soos redelikheid, koherensie, verantwoordbaarheid, ens. 2. Pogings om die nie-Christelike filosofieë van die antieke tyd, hoofsaaklik dié van Plato (Kyk by: Platonisme en Neo-Platonisme) en Aristoteles*, te versoen met die Bybelse* openbaring en Christelike leer. Belangrike figure in dié verband is Augus­tinus*, Tomas van Aquino*, Ockham*, Anselmus* en Cusanus. Dit het die hele Mid­del­eeuse filosofie, wat wesenlik Chris­te­like filosofie was, gedomineer. 3. ’n Belang­rike, min of meer definieerbare denkbewe­ging, die Thomisme* (gebaseer op Thomas van Aquino se filosofiese sisteem), wat tot vandag toe baie invloedryk is, veral binne die Katolisisme*. 4. Reformatoriese filosofie, ook bekend as die Wysbegeerte van die Wet­si­dee*, wat uit die Bybelse openbaring bepaalde filosofies-metafisiese voorveronderstellings aflei (spesifiek met betrekking tot sg “verordende” werklik­heids­dimensies), wat as uitgangspunte dien vir ’n filosofiese sisteem. Die Nederlandse filosowe Dooyeweerd* en Vollenhoven het die grondslag gelê vir hierdie beweging wat ook deur die denke van die gereformeerde* filosowe Stoker*, Venter en Kock gedurende die 20ste eeu ’n groot navolging in Suid-Afrika geniet het.

Bogenoemde vorms van Christelike filosofie word egter deur baie filosowe in die Westerse filosofie met agterdog bejeën. Een opvatting meen dat die aard en meto­de van die filosofie juis a-religieus of selfs anti-religieus is en dat die Christelike godsdiens, soos ander godsdienste, op vooroor­dele berus wat nie die toets van konse­kwente filosofiese bevraagtekening kan deurstaan nie. ’n Ander opvatting, wat selfs ook deur Christelike denkers voorgestaan word, meen weer dat daar ’n skerp onderskeid gehandhaaf moet word tussen kritiese, filosofiese denke aan die een kant en geloofsbelydenis* en Christelike leer* aan die ander kant. Volgens hierdie opvatting is die “waarhede” van die Christelike geloof en -leer van ’n ander aard as die soort “insigte” wat filosofies, met behulp van kritiese redelikheid, geken en bewys kan word. Nogtans is daar baie voorbeelde van werklike groot denkers wie se filosofie én geloofsverstaan op radikale en aangrypen­de maniere deur hierdie spanning geteken is. Pascal* en Kierkegaard* is belangrike moderne voorbeelde hiervan.

Vir verdere lees: JM Spier 1972. Oriënte­ring in die Christelike wysbegeerte (vertaal deur HJ en DFM Strauss). Bloemfontein: Sacum.

Sidebar