CHRISTELIKE INSTITUUT
CHRISTELIKE INSTITUUT is in 1963 deur ds (later dr) Beyers Naudé*, indertyd predikant* van die NG gemeente* Aasvoëlkop en moderator* van die Suid-Transvaalse sinode* van dié kerk, gestig. Die doel was om, in opvolging van die Cottesloe-beraad*, die beleid van apartheid*, wat in 1960 tot die Sharpeville-bloedbad aanleiding gegee het, te bestry, en om swart kerke te ondersteun. Toe Naudé voor die keuse gestel is om te kies tussen die NG Kerk* en sy direkteurskap van die Christelike Instituut, het hy as predikant van die NG Kerk bedank en by die Christelike Instituut aangebly.
Die maandblad van die Christelike Instituut, Pro Veritate*, het, veral aan die begin, indringende en meermale teologies-verantwoorde artikels geplaas. Mettertyd het dit sterk sosiaal-kritiese artikels begin publiseer en die gewelddadige bevrydingstryd van onder meer die African National Congress genuanseerd gesteun. Die Christelike Instituut is in 1977 deur die destydse regering as verbode organisasie verklaar, ’n verbod wat in 1984 opgehef is. Mettertyd het dit, ook vanweë die drastiese verandering in die staatsbestel in Suid-Afrika, opgehou om te bestaan.