CHRISTELIKE LEKTUURFONDS

CHRISTELIKE LEKTUURFONDS. Binnelandse sendingwerk beleef ʼn bloeitydperk gedurende die einde van die 19de en begin van die 20ste eeu. Nuwe kerke word gevestig in die Sotho, Zulu, Tswana, Xhosa en ander taalgemeenskappe – elk met ʼn behoefte aan lektuur in hul moedertaal. Derhalwe word daar in 1957 besluit om met ʼn grootse insamelingsveldtog vir ʼn Christelike Lektuurfonds (CLF) te begin. Die inisiatief vir die insameling van die fondse is deur die Gesamentlike Kerkkantoorkommissie (GKK) geneem met die aanvanklike doelwit om €3 miljoen in te samel – ʼn bedrag van ongeveer R100 miljoen in vandag se terme. Lidmate, gemeentes en instansies is meegesleur deur die erns van die saak en binne ʼn paar jaar was hulle oor die halfpadmerk. Met hierdie geld is die ou NG Sendingpers, die NG Sendinguitgewers asook die verspreiding van kerklike literatuur vir vele kerke in Suid-Afrika, maar ook in ons buurlande gesubsidieer. CLF het ook baie geld beskikbaar gestel vir MEMA wat veral op “moderne” oudiovisuele middele van daardie tyd gefokus het.

Die Christelike Lektuurfonds staan aanvanklik onder die beheer van die GKK. Aan einde van 1958 is daar besluit op ʼn beheerraad en ʼn konstitusie met ds. Japie Jacobs as eerste voorsitter. In 1968 word die CLF met sy newedienste oorgeneem deur die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) na ondertekening van ʼn formele “Akte Van Ooreenkoms”. Die normale werksaamhede by CLF word hierna voortgesit – jaarliks is ongeveer 4 tot 5 miljoen pamflette in 22 tale gedruk en versprei, die kerke is van kategesemateriaal in agt tale voorsien, volkleur Kinderbybels is in vyf tale gedruk en die gesangeboekreeks wat toe reeds uit ses vertalings bestaan, is uitgebrei en hersien.

Hoewel die CLF selfstandig was, ʼn eie regspersoon met ʼn eie reglement, was dit in die sewentiger- en tagtigerjare ʼn instansie van die NG Kerk en het dit elke jaar verslag gelewer aan die Algemene Sinodale Sendingkommissie (ASSK) van die NG Kerk. Binne die NG Kerk word daar gedurende die negentigerjare en hierna, ernstig besin oor die posisie en werksaamhede van die CLF. Na afloop van die 2013 Sinode word besluit dat die CLF sal voortgaan om haar werksaamhede voort te sit in diens van hierdie organisasie se eie missie en visie en onder leiding van die NG Kerk se Taakspan Kerklike Media (TKM).

Die naam van die NG Sendingpers is in 1996 amptelik verander na “CLF Drukkers”, en die NG Sendinguitgewers na “CLF Uitgewers”. In Februarie 2002 is CLF Drukkers in ʼn maatskappy onder die naam “CLF Drukkers (Edms.) BPk.” omvorm en is CLF Uitgewers in ʼn Artikel 21 maatskappy verander. Die Christelike Lektuurfonds self het ʼn organisasie sonder winsoogmerk gebly. Dieselfde jaar is die CLF Vigstrust gevorm met die bedoeling om ʼn bydrae te maak tot die bestryding van die MIV en Vigspandemie wat baie akuut in Suid-Afrika na vore getree het. Sedert die CLF teen die einde van 2005 na Wellington geskuif het, is baie energie en tyd bestee om een, groot geïntegreerde mediahuis te vestig.

Vandag is die CLF ʼn organisasie met sterk en groeiende fondse, ʼn vaartbelynde en effektiewe organisasiestruktuur, met kundige komitees waarop verteenwoordigers uit al die binnelandse susterkerke dien, ʼn lojale en toegewyde personeelkorps en uitstekende fasiliteite en ʼn netwerk van lojale donateurs, vennote en diensverskaffers. Die CLF publiseer steeds lektuur oor ʼn verskeidenheid van kategorieë soos evangelisasie, geloofsgroei, maatskaplike vraagstukke en kerklike materiaal. Die inhoud van publikasies is ook sedert 2016 in elektroniese formaat beskikbaar.
Om ʼn relevante rolspeler te bly en nuwe uitdagings die hoof te bied sal die CLF moet bly fokus op sy nismark en sy kernroeping om die boodskap van die Bybel uit te dra – gratis en bekostigbaar, in elkeen se eie taal, oor allerlei grense heen.

Sidebar