CHRISTELIKE MAATSKAPLIKE RAAD

CHRISTELIKE MAATSKAPLIKE RAAD. Die Anglo-Boereoorlog* met sy konsentrasiekampe en afgebrande plase, het grootskaalse verarming van Afrikaners* tot ge­volg gehad. In 1916 is ’n kongres op Cra­dock oor die armblanke gehou en dit is met verdere kongresse en ’n verskeidenheid projekte opgevolg wat uiteindelik in 1932 in die Carnegie-verslag gekulmineer het. Dié verslag het die lig op die dreigende al­ge­hele ekonomiese ineenstorting van Afri­kaners laat val en uitgeloop op die Volks­kongres van 1934. By hierdie kongres is be­sef dat Christelike maatskaplike werkers en leraars met toepaslike opleiding dringend benodig word, en dat hulle werk effektief gekoördineer moet word. Die behoefte aan die opleiding van maatskaplike werkers het uitgemond in die werk van Hugenote Kol­lege*. Op 30 Mei 1939 is die eerste Chris­te­like Maatskaplike Raad (CMR) gestig as sa­me­snoering van 26 kerklike, maatskaplike, kulturele en opvoedkundige liggame. Hier­die groot verskeidenheid belangegroepe en benaderings het die werk bemoeilik. In 1943 is die eerste suiwer kerklike CMR in Parow gestig om op ’n georganiseerde manier maatskaplike dienswerk te verrig. Jare lank het die NG Kerk* se dienswerk lands­wyd volgens hierdie model gefunksioneer.

 

Sidebar