CHRISTELIKE WETENSKAP

CHRISTELIKE WETENSKAP. In die Christelike wetenskapsleer word daar uitgegaan van die standpunt dat alle menslike denke en waardebepalings vanuit bepaalde voorveronderstellings geskied. Die wetenskaplike – of dit nou op die terrein van die geesteswetenskappe of natuurwetenskappe is – het sekere vertrekpunte wat mede-bepalend is vir die uitkomste waartoe ge­raak word. ’n Grondliggende vertrekpunt kan dus enersyds wees om die bestaan van God as Skepper en Onderhouer van die kosmos te erken en daarmee rekening te hou in die beoefening van jou vakdissipline, of andersyds om die wetenskap te bedryf sonder erkenning daarvan dat die skepping* met sy natuurwette deur God daargestel is. Vanuit Bybelse* gesigs­punt kan ook gesê word dat wetenskapsbeoefening gegrond is in die mens se kul­tuuropdrag van Gen 1:28 om die aarde te bewoon, te bewerk en daaroor te heers, en dat Christus* gekom het om alles wat deur die sondeval verkeerd geloop het, weer op die regte spoor te plaas.

Abraham Kuyper* het tereg betoog dat daar geen enkele deel van die kosmos is wat nie aan God behoort nie. Met die stig­ting van die Vrije Universiteit* in Amster­dam onder sy leiding was dit die bedoeling dat op elke terrein van wetenskapsbeoefe­ning hiermee rekening gehou moet word. Die beoefening van Christelike wetenskap is veral wysgerig begrond deur twee filosowe van dié universiteit, Vollenhoven en Dooyeweerd*. In Suid-Afrika het die Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys* hom veral beywer vir die beoefening van die wetenskap op Bybelse en dus Chris­telike grondslag. (Kyk ook by: Potchef­stroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.)

Sidebar