CHRISTEN-VERVOLGING

CHRISTEN-VERVOLGING. Volgens Geopende Deure, ’n internasionale organisasie wat vervolgde Christene* ondersteun, se Wêreldwaarnemingslys 2015 is die tien lande waar Christene die meeste vervolg word, in volgorde Noord-Korea. Somalië, Irak, Sirië, Afganistan, die Soedan, Iran, Pakistan, Eritrea en Nigerië. Uit die lys van 50 lande waar mense die meeste vervolg word weeens hulle geloof in Christus*, blyk dat Islamitiese* ekstremisme steeds die hoofbron van vervolging is – in 40 uit die 50 lande. Die verslaggewingstydperk was 1 November 2013 tot 31 Oktober 2014. Die opname meet die mate van vryheid wat Christene het om hulle geloof uit te leef in hulle private, familie-, gemeenskaps-, nasionale en kerklewe. ’n Sesde aspek meet die vlak van geweld teen Christene. Die opkoms van ekstremistiese fundamentalistiese Islamitiese bewegings soos onder meer IS (“Islamitiese Staat”) en Al-Sjabaab het in die tweede dekade van die 21ste eeu tot die onthoofding en fusilering van Christene in onder meer Kenia en Libië gelei. Die skrikbewind van IS in die Midde-Ooste, veral in Irak en Sirië, het skokgolwe deur die hele gebied laat trek – en Christene wat hulle nie tot Islam bekeer het nie, was in lewensgevaar. (Kyk ook by: Christendom en Islam; Islam; Martelaars.)

 

Sidebar